Anco Gouws

38843090_523941278075999_9168613651962134528_oAnco Gouws beskryf homself as ‘n rustige mens wat lief is vir die natuur, om te reis, maar beskou homself ook as ‘n comic book geek en film nerd. Sy groot liefde lê egter by musiek…

Tydens die All the way from Bloem/Al die pad van Bloem produksie tydens die Vrystaat Kunstefees, het hy die gehoor behoorlik op hulle voete gehad.

All the way from Bloem/Al die pad van Bloem is Jacobus Silwer en sy vrou, Lizamé Coetzee se ‘breinkind’ wat ontstaan het weens die behoefte en gebrek aan kennis oor die musiekwêreld wat hulle onder onafhanklike kunstenaars in Bloemfontein raakgesien het. Hierdie projek is ontwikkel vir alle aspirant skrywers, musikante en sangers wat woon in Bloemfontein. Een van hierdie deelnemers was die talentvolle Anco Gouws!

Volgens Anco is hierdie projek werklik ‘n wonderlike idee en hy is baie dankbaar dat hy deel daarvan kon wees. “Ek dink nie daar is genoeg van ‘n platform vir musikante in Bloemfontein om hulle talente te wys nie en Jakobus en sy vrou Lizzie se inisiatief om so ‘n platform te skep is in my opinie regtig briljant. Nie net vir Bloem se musiekindustrie nie maar ook vir Suid-Afrika s’n en ek hoop dat die projek optel en meer skrywers, musikante en sangers kan help om hulle spore in die industrie te maak.” Anco beskou Jacobus as sy mentor in lewende lywe, en kyk op na sy nederige menswees.

Volgens Jacobus is die hart van die projek nie om ‘n wenner uit te wys nie, maar om werklik ‘n platform vir al hierdie opkomende kunstenaars te skep en nie net enkeles uit te sonder nie. Anco het wel die aand weggestap as die wenner van ‘n musiekvideo wat deur Francois Slabbert van Palm Photography geborg is.

Anco se liedjie Barman is einde Augustus as musiekvideo vrygestel. Barman handel oor temas soos hartpyn, geld en net die algemene probleme van die lewe. Die tipe goed wat mens by jou Barman oor kla as jy moedeloos sit en alleen jou probleme probeer weg drink. “Ek het vir so paar jaar myself in die beroep as ‘n barman bevind en het een aand na ‘n lang skof by die huis gesit en dink oor al die dinge waaroor al my kliënte by my kla. Liefde,geld en hoe onregverdig die lewe is, en ek het so gesit en tokkel met my kitaar en toe ek weer sien, sit ek met n volle liedjie.”

Vir hom as aspirant skrywer en musikant was hierdie hele projek ‘n groeiproses waar hy as musikant sowel as mens gegroei het. Op die oomblik is hy besig om hard aan ‘n vertoning te werk met sy eie liedjies sodat hy meer gigs kan doen. Verder, werk hy ook aan die opname van nog oorspronklike liedjies en is baie opgewonde daaroor om hulle daar buite te kry en te hoor hoe mense daaroor voel. Daar is ook sprake van ‘n debuutalbum wat dalk in 2019 ‘n werklikheid kan word.

Facebook Comments