DECA

26240412_1766098680360036_8548258774441841223_oDECA is ‘n instrumentale musiekgroep wat al die afgelope jaar duisende musiekharte verower het en ook groot opspraak gewek met die vrystelling van hulle debuutalbum. Met groot opwinding het ons ‘n voëltjie hoor fluit dat hierdie duo hulle tweede album bekend gestel het, en dat dit nou al op die rakke beskikbaar is.

Wie is DECA?

Hierdie instrumentale duo bestaan uit Douw Steyn en Herman Steyn.  Douw, wat sy liefde vir musiek by sy ma (Christa Steyn) geërf het, was egter nie van kleins af ’n musikant nie. Die gogga het hom eers gebyt toe hy besig was met sy BCom Besigheidsbestuurgraad by Noordwes-Universiteit. “Ek het saam met my ma gewerk en vir haar opnames gedoen. Nou is ek al dertienjaar voltyds in die musiekbedryf en mis ek die tye wat ons saam in die ateljee spandeer het,” sê hy. Dié kitaarspeler, wat in 2014 ’n musiekkursus in Frankryk onder leiding van Grammy-wenner Chris Lord-Alge gedoen het, se breinkind – Afrikaans Herlaai – het in 2015 drie Ghoema-benoemings ontvang.

Herman het Musiek studeer aan die Universiteit van Stellenbosch, waarna hy by die gewilde groep, DNA Strings, aangesluit het. Twee jaar later is hy Suid-Korea toe om as musiekregisseur by ’n opvoedkundige Engelse Teater te werk. Terug in Suid-Afrika het hy saam met Add Life Productions begin werk aan verskeie suksesvolle musiekblyspele, waaronder The Buddy Holly StoryEster die Musical en Dawid die Musical. SHERAAZ, ’n vyfstuk-instrumentele groep, is in 2012 deur hom gestig en is in 2014 benoem vir ’n Ghoema-toekenning vir Beste Instrumentale Album.

Hulle storie het begin toe Herman vir Jannie du Toit begin werk het by JNS musiek en hulle die kantoor by Douw se huis begin gebruik het. “Ons het vinnig aanklank gevind en begin saam werk aan musiek projek. Douw het toe begin speel saam met SHERAAZ wat ek gestig het en aan die einde van 2016 het ons besluit om ons eie projek te begin wat toe DECA geword het. Ons het begin om by Malls te speel om musiek te toets en uit te vind waarvan die publiek hou. Dis iets wat ons nou nog doen en geniet daardie deel baie, dis lekker om te busk vir mense en hulle te verras met goeie musiek,” sê Herman.

Waar kom die naam DECA vandaan?

DECA beteken 10 in Grieks. 4-vioolsnare + 6-kitaarsnare = 10!

Julle sê julle nuwe album, II, bestaan uit 13 lekkerluistertreffers in ‘n tipiese DECA-styl. Hoe sal julle jul ‘tipiese DECA-styl’ beskryf?

Instrumentale, pop, ierse folk gevoel 😉

 In watter opsig verskil die nuwe album se klank met die eerste album s’n?

Die nuwe album het ’n prettige, elektroniese aanslag. Dit het ook bietjie meer van ‘n Pop gevoel as die eerste album “Black Sails”

 Watter liedjies kan julle op die album uitsonder en hoekom?

“Oorwin” is deur Douw Steyn en William de Bruin, wat medevervaardiger van die album is, geskryf. William het in 2017 deur erge depressie gegaan en die liedjie is geïnspireer deur die feit dat daar lig is aan die einde van die tonnel. Ons hoop dat enigiemand, wat deur ’n moeilike tyd gaan, daarby sal aanklank vind”. Die lied is ‘n ‘colab’ saam Len Muller.

“Kiss” voel ons is ook ‘n sterk liedjie op die album veral saam met die musiekvideo wat op 14 Februarie vrygestel word. Die konsep is ‘n verrassing.

In ons Suid-Afrikaanse musiekbedryf, dink julle dit is vir instrumentele kunstenaars ‘n groter uitdaging om naam te maak in die bedryf as ‘n sanger(es), en hoekom (of hoekom nie)?

Ja en nee. Ons gehoor/teiken mark is nie dieselfde nie. So ons doen nie altyd goed by sekere geleentheide soos feeste nie, maar ons doen weer beter op ander geleenthede soos coporates en winkelsentrums.

Douw: Jy het jou liefde vir musiek by jou ma (Christa Steyn) geërf. Wat is die beste raad i.t.v. musiek wat jy al ooit van haar ontvang het?

Ek het definitief ‘n belangsteling a.g.v haar. Beste raad – “moet dit nie voltyds doen nie” 😉

Wat is die grootste verskil om saam met iemand in ‘n duo-groep te wees teenoor om as solo-kunstenaar musiek te maak?

Ek dink mens is sterker saam, meer mannekrag om iets te reël, goedkoper om met een kar na show toe te ry. Mens kan klank toerusting saam koop.

Indien julle enige ander instrument nog in hierdie wêreld kon speel, wat sou dit wees?

Bagpipes

Facebook Comments