Eksklusief: Elandré

19942695_536538433136821_7041389845495879009_o (Custom)
Elandré Schwartz, ‘n jong dromer van die klein dorpie, Despatch, se lewe het in ‘n oogwink verander, nadat ‘n video op sosiale media,  waarin hy Bruce Springsteen se “Tougher Than the Rest” gedoen het, oornag meer as 100 000 views gekry het. Sy drome het realiteit geword toe SELECT-Musiek vir hom ‘n platekontrak aanbied…

1. Jy was nog altyd ‘n groot dromer. ‘n Video op sosiale media, waarin jy Bruce Springsteen se “Tougher Than the Rest” gedoen het, het vir jou ‘n platekontrak losgeslaan. Vertel ons meer van die storie agter hierdie video.

 “Tougher than the Rest” het my nog altyd aan die huis herinner. Het bietjie huis toe verlang  daardie dag en toe het ek en my vriendin Nikita Williams die song opgeneem. Ek wou oorspronklik dit nie post nie omdat ek gedink het dat dit nie goed genoeg was nie. Het nooit geding dit sou ooit so ’n groot impak maak nie. Die terugvoering was oorweldegend.

2. In  2017 na jou oornagsukses, reik jy jou debuutalbum uit, getitel Kleindorp-dromer, gevul met oorspronklike liedjies vanuit jou eie pen. Waar kom die inspirasie van die titel vandaan?

 Ek wou met hierdie album myself voorstel en myself deel met almal wat my ondersteun. “Kleindorp-Dromer” is ’n opsomming van hoe ek myself beskou. “Kleindorp-Dromer” was die storie voor, en tot by, “Tougher than the Rest”.

 3. Vertel ons meer van die album? Waar kom die idees agter die liedjies vandaan? Hoe sal jy die algemene klank van die album beskryf? Watter liedjies kan jy uitsonder op die album en hoekom?

 Meeste van die liedjies was geskryf voor die “Tougher than the Rest”-video. Die liedjies op die album gaan oor my mense, my ondervindings met die onbekendes wat my geleer en inspireer het toe self onbekend was, en die avontuur van ’n Despatcher wat Kaapstad aan gevat het. Die album is ’n nuutskepping vanuit die klanke waarmee ek groot geword het.

“Die Lyn” – my hartslied aan Despatch se strate en mense.

“Eendag” – die liedjie was die draaipunt tussen vasbyt of opgee op die soeke na wat die toekoms mag inhou.

4. Jy het saam met groot name gewerk tydens die opneem van jou album. Vertel vir ons van jou ervaringe om met groot name soos Jaconell Mouton of Ricus Nel te werk?

 Dit was ’n groot eer, maar ek was meeste beindruk met hulle getrouheid aan hulle kuns. Die span wat “Kleindorp-Dromer” saamgestel het, het werklik talent, en dit is wat “Kleindorp-Dromer” vir my so spesiaal gemaak het. Hulle skop gat.

 5. Wat is die boodskap wat jy aan mense deur jou musiek wil oordra?

 Jy is nooit te klein om groot te droom nie. Met hierdie album wil ek mense inspireer om uit te gaan en die lewe se eenvoudighede te ondervind en te waardeer. Die ‘eenvoudighede’ is my brandstof. Wees die ‘jy’ van jou drome.

 6. Die sukses het baie vinnig oor jou pad gekom. Wat sal jy sê is die grootste voordeel en uitdaging daarvan?

 Die grootste voordeel en eer vir my is om ’n platvorm te hê waarop ek my kuns kan ten toonstel. Ek sou sê my grootste uitdaging is tans om balans te handhaaf en ‘n voorbeeld te wees.

 7. Wat kan ons van Elandré  in 2018 verwag?

 Hopelik groter en beter dinge, asook, nuwe musiek.

8. Jy is ‘n groot inspirasie vir vele opkomende jong musikante! Watter raad kan jy vir jong musikante gee wat ook, nes jy, groot droom.

 Weet dat jy een van ’n soort is en leer om gemaklik in jou eie vel te wees. As jou drome jou nie ongemaklik maak nie, het jy nog nie groot genoeg gedroom nie. Moet nooit gemaklik raak nie. Werk hard en wees goed vir ander.

 9. Afrikaans lê naby aan jou hart en jy sing en skryf in jou hartstaal. Hoe sien jy die toekoms van Afrikaanse musiek? Byvoorbeeld, volgens eie mening, hoe sal Afrikaanse musiek  oor 20 jaar wees?

 Soos dinge nou gaan met al die ongelooflike, nuutskeppende kunstenaars wat uit alle hoeke van ons land die pot roer; sien ek ’n baie helder toekoms vir Afrikaanse musiek. Wees trots, Afrikaans sal bly.

 10. Beskryf jou motto van die lewe in een sin.

 In my ma se woorde: “Beproef als en behou die goeie”.


 

Facebook Comments