JESUS – Die Passiespel

27164693_2043414789239039_8217393471634681806_oPACOFS en die ATKV-tak Gemeenskapsteater bied aan: ‘Jesus – die Passiespel’

As een van die grootste gemeenskapsteaterprojekte in Afrikaans, is ‘Jesus – Die Passiespel’ een van ‘n trilogiereeks. In 2016 is die eerste een van die trilogie, ‘Pilatus – ‘n Kruis in die Pad’, onder leiding van Gertjan Holtzhausen geskryf, gevolg deur ‘Judas – Wat is die Prys van bloedgeld?’, wat in 2017 op die planke gebring is. Die eerste twee blyspele het albei uitverkoopte gehore gelok en beloof om hierdie jaar met die verhaal van Jesus, dieselfde opspraak te wek. Die teks is weer deur Gertjan Holtzhausen geskryf met Dr. Niel van Niekerk as regisseur.

Trots borrel binne my hart wanneer ek in ons geliefde San du Plessis teater sit en sien hoe die vrugte van maande se harde werk en opoffering gepluk word. Die teks is vars en innoverend. Die temas wat deurgaans die toneel opduik is relevant tot ons moderne tye en samelewing, en daardeur kan die gehoor hom-of haarself met dele uit toneelstuk assosieer. Die hele vertoning vloei spontaan en die klanke van die orkes en die spelers se sang en bewegings komplimenteer mekaar ten volle. Dit is fantasties om te sien hoedat die mense vanuit die gemeenskap van Bloemfontein soveel entoesiasme wys met die deelname aan die projek. Bloemfontein en sy mense is werklik vol verrassings…

“JESUS – die passiespel verbeeld Jesus se lewe van krip, kruis tot opstanding. Simboliese elemente soos lig en liefde verweef die musiek en handeling tot ‘n simbiotiese geheel. Jesus is die Lig en die Liefde. Sy verspilde bloed, in die tweede bedryf, is simbolies van ons ewige redding.”

Met die laaste deel van die trilogie, het die produksiebestuurspan beoog om ‘n tipe van Griekse teater-vorm aan te neem. Die Vrystaatse Jeugorkes, onder leiding van Alexander Fokkens, is in beheer is van hierdie jaar se unieke en vars klankbaan wat die Griekse-teater gevoel volkome skep. Jacobus Silwer is weer gevra om al die musiek en lirieke te skryf, met Jaco Bezuidenhout en Eraneé de Beer in beheer is van die orkestraleverwerkings. Die gemeenskapskoor, onder leiding van Hattingh Davel as koormeester, het die spel vervolmaak.

Almal wat die vertoning gaan kyk, gaan regtig as ‘n heel ander mens terug huistoe gaan. Dit is gewaarborg dat hierdie jaar se Passiespel julle verwagtinge gaan oortref!

Ek sluit graag af met Gertjan Holthausen se woorde: “Kom, en elkeen wat dit hoor, moet sê: Kom! En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat smag na die lewegewende water moet kom haal, verniet…”


Facebook Comments