Koos Kombuis: Byna vier dekades van volksmond lirieke

Koos Kombuis
Koos Kombuis (Foto: F. van Leeuwen)

In die tagtigerjare het hy van kortverhaalskrywer by Die Huisgenoot die musiekbedryf as sanger betree. Sy musiek was dadelik as ‘ongewens’ bestempel. In 1986 pak hy saam met die bekende Johannes Kerkorrel en Bernoldus Niemand die Voëlvry Toer aan. En na byna vier dekades lê Koos Kombuis se lirieke steeds in die volksmond.

Koos Kombuis gesels oor sy beginjare as musikant, die musiekbedryf nou en waar sy inspirasie vir liedjieskryf vandaan kom. Koos Kombuis is die 27ste Oktober by Park Acoustics in Pretoria te sien.

 

1. Hoe het dit gekom dat jy as ‘n skrywer van kortverhale by Die Huisgenoot ‘n bekende sanger word?
Die dag toe my eerste storie by Die Huisgenoot aanvaar word, was ek baie opgewonde en het ek groot gedroom. Ek wou baie graag ‘n boek ook skryf, want ek het geweet stories vertel is my sterkpunt. Maar ek het nooit gedroom dat ek sou opeindig met ‘n musiekloopbaan nie. Dit het heeltemal per ongeluk gebeur dat ek en Jillian Botha in 1981 saam begin sing het in rerstaurante en die res is geskiedenis.

2. Die sensuurraad in die 1980’s het jou eerste plaat as ongewens gebrandmerk. Wat was die boodskap wat jy daardie jare met jou musiek wou uitdra? Hoe het jy uit daardie stigma van “rebelsheid” en “ongewens” gekom?
Een van die dinge wat my aanvanklik aangetrek het na die musiekbedryf was die feit dat wanneer ek ‘n lewendige show doen, my woorde nie gesensuur kon word nie. Ek kon al my woede jeens apartheid uitleef deur gekruide taal te gebruik. Mettertyd het ons geslag ons protesjare tot ‘n mate ontgroei, en ek is baie verlig dat ek nou al langer as tien jaar vry van dwelmmiddels is. Dis egter nie net ek wat verander het nie. Die land het ook verander.

3. Hoe het die Afrikaanse musiekbedryf van die 80’s tot nou verander? Sou jy sê ons het ‘n vorm van transformasie ervaar? Is dit makliker in vandag se tye vir ‘n alternatiewe musikant om in die bedryf in te kom?
Die geweldige ontploffing in plaaslike en veral Afrikaanse musiek sedert daardie jare het die paradoksale effek gehad dat dit vandag net so moeilik of selfs moeiliker is vir ‘n jong liedjieskrywer om te kompeteer. Destyds was daar geen alternatiewe Afrikaanse musiek behalwe ek en my handjievol vriende nie. Vandag is daar so baie style en diverse sangers dat mens maklik verdwyn in die agtergrond. Daar is meer vryheid vandag, maar ek voel jammer vir jong sangers met talent wat probeer inkom in die industrie. Gelukkig hoef ‘n mens nie meer te wag tot ‘n platemaatskappy jou raaksien nie. Die regte YouTube-video op die regte tyd kan wondere doen.

4. Wat is jou gunsteling Afrikaanse musikante of bands vandag en waarom?
Daar is te veel om op te noem! Natuurlik is daar, soos in alle musiek-industriee, ongelukkig meer kwantiteit as kwaliteit, maar omdat die veld so geweldig groot is, is daar oorgenoeg bands en sangers wat regtig fantastiese werk lewer. Dis jammer dat die kommersiële ouens nog steeds die meeste geld maak, maar dis niemand se skuld nie. Ek dink nie ons kan dit verander nie, dis maar hoe die aanvraag werk.

5. Jy is ‘n onafhanklike kunstenaar en is nie aan ‘n platemaatskappy verbonde nie. Wat is die waarde vir jou as musikant om op jou eie so sukses te kan maak? Wat is wel die uitdagings daaraan om onafhanklik as musikant te staan?
Ek is om twee redes nie by ‘n platemaatskappy nie. In die eerste plek wil ek volkome kreatiewe vryheid hê. In die tweede plek is ek as veteraan in die bedryf in die baie bevoorregte posisie dat ek nie afhanklik is van promosie wat iemand anders vir my reël nie. Ek finansier my eie albums en kies my eie verspreiders. Dit kan mens soms nogal baie geld uit die sak jaag, maar die winsgrens is beter. Met my laaste album, “Langpad na Lekkersing”, het ek skarebevondsing probeer, en dit het merkwaardig goed gewerk.

6. Wat is die verskil vir jou om ‘n skrywer te wees en ‘n musikant/liedjieskrywer?
Ek sien myself nog steeds in die eerste plek as ‘n skrywer en storie-verteller. Ek dink my talent met woorde is groter as my talent met musiek. Ek verstaan niks van  musiekteorie nie, kan glad nie note lees nie, en my kitaar-tegniek is baie beperk. Boonop kry ek deesdae bietjie rumatiek in my linkerhand, so my dae as uitvoerende kunstenaar is dalk getel. Die dag wanneer ek my kitaar ophang sal ek my weer  my aandag voltyds wy aan skryf.

7. Vir ‘n kreatiewe siel soos jy, moet daar n bron van inspirasie wees. Wat is dit vir jou?
Ek kan nie vir jou opnoem watter dinge my inspireer nie. ‘n Nuwe liedjie begin gewoonlik by een frase of rymwoord wat in my kop inspring. Wanneer ek dit neerskryf, kom daar nog idees sommer vanself. Ek het nie eintlik vreeslik beheer daaroor nie en ek beplan dit nooit nie.

8. Waarmee is jy deesdae besig? (Enige nuwe albums in die vooruitsig?
Ek het amper genoeg nuwe liedjies vir ‘n volgende album, maar ek is nog nie heetlemal gereed om weer studio toe te gaan nie. Ek het nie nou genoeg geld nie, en boonop wil ek eers die liedjies vir ‘n ruk lank uitprobeer op lewendige gehore. Ander musikante neem ‘n nuwe album op en gaan dan daarmee op toer. Ek doen dit andersom. Ek speel my nuwe liedjies vir ‘n jaar of langer by konserte, en wanneer ek genoeg terugvoer gekry het, maak ek ‘n keuse en dan neem ek hulle op. Ek dink nie ‘n nuwe album sal binne die volgende jaar uitkom nie, ek wil bietjie langer wag. Maar ek is baie bly as mense opdaag by my vertonings en hou van die nuwe materiaal.

9. Wie is jou grootste invloede in die lewe?
My geloof is vir my baie belangrik. Ek heg ook baie waarde aan Tobasco. Ek gooi dit oor alles. O, en ek is absoluut mal oor my gesin en my troeteldiere.

10. Lisa se klavier is een van die grooste Afrikaanse liedjies nog ooit geskryf. Hoe voel dit vir jou as ander kunstenaars jou liedjies cover? Hoe voel jy oor covers?
Daar was al baie mooi covers van “Lisa se Klavier”, en amper almal sing dit beter as ek. Dis vir my ‘n groot eer as ander musikante my liedjies sing.

11. Vandag is Koos Kombuis ‘n huishoudelike naam vir Afrikaners. Wat het jy oor die jare geleer wat jy aan jonger generasies musikante sal wil oordra?
Moenie jouself te ernstig opneem nie. Moenie te groot droom nie. Doen net elke dag die klein dingetjies reg. Was jou eie skottelgoed. Maak jou bed op. Probeer om nie ‘n d…s te wees nie.



 

Facebook Comments