Laataand Blues

Dan Patlansky en Stephen Jonathan (Foto: Stephen Jonathan, Facebook)
Dan Patlansky en Stephen Jonathan (Foto: Stephen Jonathan, Facebook)

’n Propvol Atterbury-teater vol Blues-fanatici sit en wag in aanwagting vir Dan Patlansky om sy opwagting te maak. Op ’n leë verhoog staan onder andere ’n Fender Stratocaster wat so eie is aan Dan the Man homself.

Mens se grootste verwagtinge word gewoonlik by ’n Dan Patlansky-vertoning oortref. Daar is nie woorde om sy vertoning soos Dinsdagaand s’n te beskryf nie. Vandag wil ek eerder fokus op die talent wat ek voor Dan Patlansky se vertoning op die verhoog aanskou het.

Net na 20:00 het die ligte verdoof en ’n lang skraal man met lang donkerbruin hare neem sy plek op die verhoog met sy elektriese kitaar om sy skouer en sy akoestiese kitaar in sy hand, gereed om te speel. “Stephen Jonathan” stel hy homself voor. ’n Veelsydige musikant. Ek het omtrent ’n maand gelede hom die heel eerste keer in Railways Café gesien waar sy band Stones and Gold hulle EP genaamd Rogue bekend gestel het. Vanaand staan hy sonder ’n band op die verhoog met slegs sy kitare en looping pedal. Hy open die verhoog vir Dan en sy band.

Ek was verstom oor sy musikale talent. Sy vingers beweeg vinnig oor die snare van sy akoestiese kitaar terwyl hy met ’n sterk stem lirieke sing wat gaan oor die reis van die lewe vanuit sy eie perspektief as liedjieskrywer en sanger binne die Suid-Afrikaanse konteks.

Met die invloed van musikante soos Rodrigo Y Gabriela en Tommy Emmanuel, maak Stephen ook baie gebruik van sy akoestiese kitaar as ’n drom waarop hy met sy hand ritme hou. Ander sterk musikale invloede soos John Mayer en selfs Pearl Jam slaan ook nou en dan deur sy musiek.

Tussendeur sy eie werke het Stephen sy weergawe van Dire Straits se minder bekende hits “Six Blade Knife” ingewerk waaroor die gehoor gaande was.

Dit is moeilik om ’n spesifieke genre aan sy komposisies te koppel omdat hy deurgangs met die musiek eksperimenteer en interessante akkoordprogressie gebruik. Stephen koppel die label “Progressive Poprock” aan sy musiek en beskryf dit as die elemente van sy musiek wat heeltyd verander soos wat die musikale landskap groei en verander.

Outentiek op sy beste!


 

Facebook Comments