Len Muller gesels oor Musiek soos grond-musiekervaring

54518559_2445118612429845_8268932455738638336_nMusiek soos grond is die heel eerste van sy soort in die land en gaan sorg vir ’n musiekervaring wat jy beslis nie wil misloop nie. Dié twee konserte is daarop gemik om vir kontemporêre kunstenaars ’n platform te gee om hulle hoendervleismooi lirieke, lewensverhale en veelsydigheid op die verhoog met gehore te deel.

Joshua na die Reën, Kaleidoskoop, Len Muller, Leon Gropp, Lizandra Winter en Liani Reynolds gaan almal die verhoog deel en nie net hulle eie verwerkings opvoer nie, maar ook saam musiek maak en mekaar begelei.

Ons het met Len Muller oor sy ervaringe van Musiek soos grond gesels.


Hoe het jy betrokke geraak by Musiek soos grond?
Dis was iets wat ek en Jacques (Joshua na die Reën) al vir jare lank oor praat; al vandat ons saam gewerk het op die duet ‘Vir die een wat geval het’. So ek dra dit al jare in my hart maar toe gee Jacques dit ‘n naam en die visie is gebore.

 Vertel kortliks van die Musiek soos grond-musiekervaring?
Die idee het onstaan toe ons met elkeen van ons eie toere deur die land ‘n behoefte gesien het vir ‘n Afrikaanse musiekervaring wat nie noodwendig by ‘n fees, kroeg of binne ‘n gebou pas nie. Iets anders as die norm. Ons wil graag hê die natuur/buitelig moet agtergrond van die optrede skep en die musiek moet mense weer verlief maak. ‘n Geleentheid waar mense weer musiek saam met mekaar kan beleef en wat met die hart praat.

Wat kan die mense wat daarna gaan kyk verwag?
Mense kan ‘n vertoning verwag wat met hul harte wil praat. Daar is samewerkings tussen almal bertrokke op die aand en gaan iets baie spesiaal wees wat mense vir jare nog sal onthou. Ons is besig met ‘n splinter nuwe lied wat ons almal saam gaan opneem en sing by die vertoning. Die vertoning is vir enige iemand wat waardering het vir goeie oorspronklike Afrikaanse musiek met ‘n dieper betekenis.

Julle groep musikante het saam ‘n splinternuwe enkelsnit, Lugballon, opgeneem. Vertel ons van die konsep agter hierdie liedjie?
Die lied het my maak huil die eerste keer toe ek dit hoor. Dis ‘n boodskap wat ek dink almal nodig het om te hoor. In vandag se lewe worstel mense baie met selfbeeld en minderwaardigheid. Die lied wil mense bemoedig deur te sê: “Jy is genoeg.”

Vertel ons van jou ervaring om saam met hierdie ander musikante te werk tydens die opneem van Lugballon?
Dit is altyd vir my ‘n voorreg om saam met ander musikante en skrywers te mag werk. Veral hierdie groep saam met wie ek al ‘n ruk lank die pad stap. Musiek was nog altyd ‘n samewerking. Of jy nou saam met rekenaarprogramme werk of regte musikante, dis nooit net een persoon betrokke by musiek nie. Daarom kan musiek nie ‘n kompetisie wees nie. Daar is soveel wat ek oor myself en my musiek leer. Al my tekortkominge kom na vore in so samewerking en dit forseer mens om nederig te bly en spasie te maak vir iemand anders om aan te vul.

Gee vir ons ‘n voorsmakie van julle voorbereiding vir hierdie konsert?
Ons wil beoog om die hele vertoning met regte instrument op te voer met geen agtergrondmusiek nie, so ons het almal mekaar se liedjies gekry om te leer. Dan sal ons binnkort begin met repetisies om die vertoning aanmekaar te sit. Daar mag snare tydens die vertoning breek of iemand mag dalk ‘n noot mis, maar ek glo dis hierdie tipe dinge wat ‘n vertoning onvergeetlik maak.

Wat is jou verwagting van die konsert?
Ek het geen verwagting, maar eerder ‘n afwagting dat mense iets sal beleef wat hul harte sal sag maak teenoor hulself en mekaar.

Behalwe vir Musiek vir grond, waarmee is jy as Len Muller tans besig?
Eks besig met my nuutse enkelsnit en derde solo-album wat later die jaar vrygestel gaan word! Ek is opgewonde dat mense die nuwe musiek gaan hoor!


Musiek soos grond vind die 27ste April by Villa Avianto in Bloemfontein plaas en 4 Mei by The Big Red Barn in Pretoria. 

54279133_2443783969229976_5901846902260891648_oDeure open om 17h00 en sluit weer om 22h00. Gaste is welkom om piekniekkomberse, kampstoele of kussings te bring om op te sit terwyl hulle saam kuier.

Kaartjies sal beskikbaar wees by www.musieksoosgrond.co.za en sal wissel tussen R200 en R250 per persoon.

RAAK BETROKKE!
Indien jy of jou besigheid ’n stalletjie by een van die vertonings wil hê of jy graag op ’n ander manier wil bydra of betrokke raak, stuur ’n e-pos na musieksoosgrond@gmail.com


 

Facebook Comments