Lush Fest 3.0

29497979_1928290840535966_8174207931277901824_nArtikel deur Anja van der Merwe op Netwerk 24, Vrystaat: https://www.netwerk24.com/ZA/Vrystaat/Nuus/reen-blus-nie-fees-se-vlam-20180410-2

Hoe beskryf ‘n mens Lush? Dis daardie besonderse gevoel wat jy kry wanneer jy verby die ou sandsteen plaashuis loop en verwonderd staan. Om die natuurskoon rondom jou op kamera te probeer vasvang en in woorde te beskryf is byna onmoontlik. Die Lushfees was vir die derde opeenvolgende jaar op die Linwood Guest Farm, buitekant Clarens op die Fouriesburgpad, gehou. Na twee suksesvolle pogings in 2016 en 2017, is dié innoverende musiek- en leefstylfees weer terug met die belofte dat hulle weer die feesgangers nie gaan teleurstel nie.

Die krane in die hemel is oor Paasnaweek oopgedraai en reën het neergestort oor die aarde. Alhoewel ‘n reënbui die grond deurspoel het en die aarde nat gelaat het, het dit nie die feesgangers ‘hier êrens in Clarens’ tot stilstand gebring nie. Lushfees het beloof om dié reën te gebruik om net nóg meer opwinding aan die feesgangers te bied. Soos Queen sou sê “The Show Must Go On”, en hy het verseker aangegaan.

Eweskielik was skoene nie meer ‘n noodsaak nie. Die doelgerigte musiekliefhebbers het die modderige toestande aangepak met gumboots of selfs die pad na die verhoog gly-gly met kaalvoete aangedurf. Dié wat nie deur die modder wou ploeter nie het vanuit die kamparea na die musiek gesit en geluister terwyl hulle ‘n warm drankie of sjerrie geniet het. Teen Sondag het die hemelruim oopgetrek en die grond het in die hittige son tussen die berge begin droogbak.

Hierdie jaar se lys van diverse en talentvolle kunstenaars het net nog meer opspraak onder feesgangers gewek. Musiekgroepe soos Runaway Nuns vanuit die Kaap en Hello Beautiful het die fees op die Owl-verhoog Donderdagaand afgeskop. Parallel inlyn met die Owl-verhoog het die  Willow-verhoog, oftewel die hoofverhoog van die fees, gesorg vir ‘n diverse program met uiters talentvolle kunstenaars soos Dewald Wasserfall, Boo, Desmond and the Tutus en Goodluck wat die aand afgesluit het. Die Pierce Brothers, oftewel die “Australiaanse weergawe van Mumford and Sons”, het die feesgangers laat begin dans met hulle folky musiek en jolige ritmes.

Saterdag en Sondagaand was daar nog meer talent om van te kies en te keur. Laura Burhenn, Dave Depper en Kyp Malone het al die pad van Amerika gekom om die mense in verwondering te laat met hulle sielvolle musiek en diep liriese inhoud. Die energieke klanke van Aking het Saterdagmiddag oor die feesgronde getrek terwyl die son salig in die agtergrond sak. Van Pletzen en Bittereinder het Afrikaans se naam hoog gehou op die EDM-verhoog in die Woud. Die EDM-verhoog het seker gemaak dat die elektroniese klanke tot in die vroeë oggendure die feesenergie aan die gang hou. Die fees is Sondagaand op ‘n hoë noot afgesluit met vertonings soos dié van legendariese Anton Goosen, wie se liedjies al volksbesit is onder die Afrikaanse gemeenskap, asook Bowling for Soup as die hoof internasionale vertoning vir die naweek. Jack Parow, met sy “Blerrie Gevaarlike Afrikaans Rap”, was verseker die hoogtepunt van die aand met sy “Hosh Tokolosh” en “Boepensvark”.

Teen Maandagoggend het die kampterrein leeg gelyk soos wat die mense opgepak en vertrek het. Na ‘n derde suksesvolle Lushfees kan die feesgangers die modder van hul skoene afskop en solank gereed maak vir die volgende een…


Foto’s deur Louis Reynardt van Louis Reynardt Photography en Ralf Swart van BloemFunTown.

 

Facebook Comments