Review: Spoegwolf Koma

51199697_2096194030446458_4436903277799407616_oGelei onder swaartekrag,
as kluisenaars in die Donker Toring,
kom die vier Spoegwolf-broers met hulle vierde album oor die horison
en skiet hulle musiek soos ’n doodskoot in ons harte in.


Koma is die eerste Afrikaanse album wat die no. 1-posisie op Apple Music ingeneem het.

Koma is alles wat ons ken van Spoegwolf, alles wat ons verwag het, en soveel meer…

Vir dié wat hulle musiek ken, is ’n Spoegwolf-album soos stories wat vertel word. Stories van liefde, verlange, hartbreek en geloof. Stories wat in jou kop weergalm vir dae aaneen. Stories wat oorgedra word, soms in die sagste fluisterstem en ander kere in die mees oorverdowende gille! Opreg en altyd brutaal eerlik.

Die eerste snit, asook die titel van die album, Koma (As Ek Hier Uit Kan Kom), is die perfekte inleiding tot hierdie intense, persoonlike album. Die gebruik van “voicenotes” tussen liedjies en verse gee ’n nuwe geur aan hulle musiek. Hierdie skep ook ’n meer persoonlike atmosfeer terwyl dit weereens vir ons wys hoe veelsydig hierdie band is as dit kom by hulle musikale en kreatiewe proses.

Storm is my persoonlike gunsteling snit op hierdie album; alleenlik omdat dit so kenmerkend aan Spoegwolf se klank is: Groot, vol en lewendig. In Kar in die reën maak Albert van der Merwe (die brullende bas van die dier) sy merk met sy kenmerkende rap. Hierdie dien ook as inleiding vir die volgende snit, Blou. Blou staan as die vlagskip-lied vir hierdie album en is ook die eerste musiek video wat vir hierdie album vrygestel is.

Verdere hoogtepunte op hierdie album is die pragtige Lenie Blou III, Rooi en Saffier, Mayday en Golwe, wat met ’n roerende mondfluit-deuntjie jou onmiddellik laat terugverlang na Swaartekrag.

In terme van produksie, stel hierdie manne soos gewoonlik nooit teleur nie. Vir onafhanklike bands in Suid-Afrika is die vervaardiging van albums altyd ’n groot uitdaging. In Spoegwolf se geval slaag hulle keer op keer. Dit sit net eenvoudig nie in hierdie 4 manne se DNA om “mediocre” musiek te maak nie. Die talent is van die hoogste gehalte. Met Moskou du Toit op dromme, Chris von Wielligh op kitaar en klavier asook Albert van der Merwe op baskitaar, is hierdie ’n resep vir sukses. Die stem agter Spoegwolf, Danie Du Toit, bring deur sy liriese inhoud ‘n magiese element tot die album.

Gewapen met mening, emosie, donderstorm tromme en liriese digkuns kom eis die ondier uit die baard van die Boland hulle lang verdiende erkenning.

Die wolf is nie oppad nie,
Hy is klaar hier.
Vertel al jou vriende!


 

Facebook Comments